Noord-Kaap Veldram Projek

Veldramme
Author: Noord-Kaap Veldram Projek    Date Published: 18 March 2024

Facebook Twitter Google +


Sommige landbouers boer van dag tot dag en is tevrede met die boerdery metodes soos sy voorouers geboer het. Ander weer het die inherente behoefte om altyd te verbeter. Om meer mielies op ‘n hektaar af te haal; meer vleis of wol op ‘n karkas te produseer; vee meer doeltreffend te voer sodat jy meer lammers of kalwers kan kry; die vroegste in die mark te wees met sagtevrugte of sommer net om jou diere te verbeter met goeie teling.

In die veebedryf het dinge oor die laaste 50 jaar drasties verander en raak dit moeiliker om volhoubaar te boer. Grond het duur geword, insetkoste het verhoog, maar die pryse wat die boer vir sy produk kry styg nie in dieselfde mate nie. Daarom moet daar al hoe meer planne beraam word volhoubaar te kan boer.

‘n Mens weet egter nie altyd wat is die maklike en vinnige pad om dié punt van volhoubaarheid te kom nie. Toe die prys van wild die hoogte inskiet het al hoe meer boere daaraan gedink om oor te slaan na wild. Dit was egter van korte duur. Deesdae hoor mens gereeld dat sekere bees- en skaaprasse enorme pryse op gesogte veilings behaal en wonder jy of dit nie jou antwoord gaan wees nie.

Die geheim is egter daarin om eerder versigtig en geduldig te bly en oordeelkundig te boer.

Een so ‘n voorbeeld is die Dorper Veldramklubs wat oor die laaste paar dekades hul kop uitgesteek het.

Dit was geen vinnige manier van geld maak nie, maar eerder ‘n stadige en deurdagte manier om kuddes te verbeter en op te bou en om terug te gaan na die oorspronklike doel waarvoor die ras geteel is en weer seker te maak jy hou by die rasstandaarde en doelstellings van die ras.

Nou, 30 of 40 jaar later, kan diegene wat geduldig was, terugkyk op ‘n suksesvolle boerdery. In die meeste gevalle is dit die mense wat slaglamkompetisies wen, en SA Stamboek se Elite Platinum Toekennings inpalm.
 

Oorspronklike doelwitte


Kort na die Eerste Wêreldoorlog het skaapboere in Suid-Afrika ‘n behoefte ontwikkel om die inheemse skape wat die eienskappe van vrugbaarheid en gehardheid het, met inheemse en uitheemse rasse soos die Ronderib Afrikaner, Persie en Dorset Horn te teel.  Later jare is eksperimente met ander rasse gedoen, want die telers het ‘n skaap gesoek met eienskappe soos maklike lamvermoë, vrugbaarheid, goeie vleiskarkas, ‘n skaap wat in ekstensiewe omstandighede op 4 of 5 maande reeds geslag kan word, ‘n skaap wat die erge koue en hitte van Suid-Afrika kan verduur, ‘n dier wat in die moeilike veldtoestande kan floreer, maklik kan reproduseer en min onderhoud nodig het.

Dit was eers in die veertiger jare wat dié ideale vleisskaap sy naam van Dorper gekry het.

Oor die jare het die daar egter nog idees en drome bygekom en telers het onder mekaar begin kompeteer en Dorpers geteel wat op skoue baie goed sal presteer. In die proses het sommige van die ras-eienskappe verlore geraak, maar daar het tog ‘n klompie telers bly vashou aan die oorspronklike doelwitte waarvoor die ras geteel is en dit is waar die gedagte van ‘n Veldram begin posvat het. ‘n Ram wat onder alle natuurlike omstandighede kan aanpas en presteer
 

Getoetste ramme sorg vir geld in jou sak


HG Human, ‘n bekende Dorper teler van Prieska omgewing sê dié ras is vir ‘n spesifieke doel geteel en om daarby uit te kom moet jy die dier se prestasies kan meet.

“As jy nie meet nie, sal jy ook nie weet nie,” gesels hy.

Hy verduidelik dat die gebruik van aangepaste, veld grootgemaakte, prestasiegetoetste ramme, na 38 jaar, bewys het dat dit vir die teler meer geld in die sak sal bring.

Hy vertel ook dat daar onder stoetboere twee denkskole is. Die een skool is diegene wat op skoue wil presteer en mooi diere teen groot bedrae op stoetveilings wil verkoop. Dit is egter ‘n baie klein, eksklusiewe mark en dit neem jare om daar in te kom en vir jouself naam te maak. Die ander denkskool teel funksionele ramme vir die groot kommersiële mark. Ramme wat vir die koper ‘n aanwins sal wees.

Met die twee denkskole word die variasie in die ras groot en dit skep meer geleentheid vir telers om te besluit waar hulle wil inpas. Daarom skiet hy nie een van die denkskole af nie omdat elkeen n bestaansreg het, maar hy beklemtoon dat elke boer graag vorentoe wil boer en daarom is dit noodsaaklik om die ram se vermoëns, wat jy nie met die oog kan sien nie, soos groei, vrugbaarheid en doeltreffendheid, te kan meet sodat jy kan weet wat is die dier se potensiaal.
 

Dink vorentoe


HG sê elke teler se ideaal is om sy diere voortdurend te verbeter en aan sy spesifieke ras-kenmerke en ras-doelstellings te voldoen. Om dit te kan doen is daar nie ‘n ander manier as om prestasiemeting in enige seleksie proses of aankoop van ramme te gebruik nie. Dit gee beraamde teelwaardes wat voorspel hoe die dier se nageslag gaan produseer en reproduseer.

“Teelwaardes is die akkuraatste inligting waarmee diere geselekteer kan word. Die voorspelling van teelwaardes berus op drie bene, naamlik metings, stamboom inligting en genetiese parameters naamlik oorerfbaarheid en genetiese korrelasie tussen eienskappe.”

Hy vertel verder dat hulle jare gelede die veldram projek begin het om potensiële teelramme onder normale veldtoestande so akkuraat moontlik te evalueer en dit aan produsente te bied met soveel as moontlik inligting tot sy beskikking.

Hul uitgangspunt was: ‘Teel ‘n dier soos hy moet lyk om te produseer’. In die verlede is die dier se vorm heeltemal oordryf terwyl die klem eintlik moet val op die ekonomiese eienskappe soos vrugbaarheid, groeivermoë en aanpasbaarheid.

“Die ram moet ook grootgemaak en getoets word onder dieselfde toestande as wat hy moet gaan werk. Ramtelers en slaglam produsente moet vir die selfde eienskappe selekteer en daar moet ook nie net enkel-eienskap seleksie wees nie. Prestasiesyfers moet ook betroubaar en bo verdenking wees. Daarom maak ons gebruik van SA Stamboek se databasis en die inligting wat ons daaruit kry help enige teler om elke jaar beter en meer ekonomies te kan boer,” gesels hy op ‘n ernstige noot.

Die Dorper telers het oor die jare bewys dat hulle op die regte pad is. Dr Mostert van SA Stamboek, wat nou saamwerk met die Dorper telers, vertel ook dat statistieke bewys het dat die ras aansienlik verbeter het oor die laaste 40 jaar. Volgens haar inligting vanaf 1984 tot 2021 het Dorpers se gemiddelde speengewigte van 22kg na 29,6kg verhoog; totale gewig gespeen het verhoog van 30,9kg na 37,5kg. Die ouderdom eerste lamming het verkort van 658 dae na 498 dae en die interlam periode het verbeter van gemiddeld 393 dae tot 376 dae. 
 

Genetika en omgewing.


Volgens HG lê ‘n dier se prestasie nie net in sy gene nie. Dit word deur sy genetiese samestelling sowel as die omgewing waarin hy groei en produseer, bepaal.

“Die omgewing en bestuur waaraan diere blootgestel word, verander dwarsdeur die dier se produktiewe lewe, maar sy genetiese potensiaal, wat deur die ouers bepaal word, bly altyd dieselfde. Die enigste invloed wat daardie dier op sy nageslag sal hê, is deur die oordrag van gene. Dit is een van die goeie dinge wat ‘n teler kan bestuur met behulp van goeie seleksie en goeie bestuur,” is HG se mening.

Hy glo veldramprojekte en prestasietoetsing is die pad van die toekoms. Die produk is ‘n aangepaste, veldgetoetste en funksionele dier wat onder verskillende klimaats- en omgewings toestande kan produseer en reproduseer. Prestasie data word vandag wêreldwyd gebruik om winsgewendheid te verhoog.

Vir meer inligting skakel met HG Human by 078 639 2216.



Article Index  Back to Top

© Copyright Noord-Kaap Veldram Projek 2025. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Noord-Kaap Veldram Projek.