Die belegging van die Dorper ras in Produksie-Meting

Die belegging van die Dorper ras in Produksie-Meting
Author: Dr BE Mostert - SA Stamboek    Date Published: 18 March 2024

Facebook Twitter Google +


Die Dorper ras is al vir baie jare lank betrokke by Produksie-Meting, met speengewigte wat sedert 1983 op SA Stamboek se Databasis, Logix, vasgelê  is met stamboominligting wat tot 1969 teruggetrek kan word. Tans is die Dorper ras die grootste van 13 vleisrasse wat aan Logix Genetiese Ontledings deelneem, met 25% van speengewigte wat in die Genetiese Ontledings ingesluit word afkomstig vanaf Dorper telers.
 


‘n Baie mooi toename is speengewigte wat deur telers ingestuur is het vanaf 1983 tot 2008 plaasgevind, met meer as 20 000 speengewigte vir Dorper lammers wat gedurende 2008 op Logix vasgelê is. Sedert 2008 is daar egter ‘n gelydelike afname in deelname, met ongeveer 8 000  speengewigte per jaar wat in die laaste paar jaar op Logix vasgelê en ingesluit word in die Genetiese Ontleding.

Vanuit die inligting wat op Logix vasgelê is, kan gesien word dat die Dorper ras fenotipies verbeter het, met speengewigte wat vanaf gemiddeld 22kg in 1983 tot 29.6kg in 2021 toegeneem het, na-speengewig wat min of meer dieselfde gebly het (30.16kg in 1984 tot 29.9kg in 2021), totale gewig gespeen het verbeter vanaf 30.9kg in 1985 tot 37.5kg in 2021, ouderdom 1ste lamming het verkort vanaf 658 dae in 1984 tot 498 dae in 2020 en interlam periode het verbeter vanaf gemiddeld 393 dae in 1984 tot 376 dae in 2020.

Geneties kan fenominale genetiese verbetering gesien word vir die kuddes wat deelneem aan Produksie-Meting. Die Dorper Reproduksie Indeks, ‘n kombinasie van Aantal Lammers Gespeen, Speen Maternaal , Ouderdom 1ste Lamming en Interlam Periode, het met byna 17 indekspunte (1.5 standaardafwyking) toegeneem, terwyl die Dorper Logix Meriete Indeks, ‘n kombinasie van groei en reproduksie, met meer as 22 indekspunte (byna 2 standaardafwykingseenhede) sedert 2000 verbeter het.


Dorper telers wat aan Produksie-Meting deelneem, doen oor die algemeen baie goed in SA Stamboek se Elite Toekenningsfunksies. Hierdie Elite Toekennings word sedert 2012 jaarliks gedoen om erkenning aan  telers se deelname aan Logix Produksie-Meting te gee in terme van die volledigheid en tydigheid van Produksie-Aantekeninge op Logix, asook die effektiewe toepassing van die inligting wat teruggaan vanaf Logix na die telers. Kuddes word in drie afdelings beoordeel, naamlik vir Produksie-Aantekeninge, vir die reproduksie van die kudde en die genetiese vlakke van die ooi-kudde sowel as ramme wat as vaders in die kudde gebruik is. Tydens die 2021-Elite Toekennings van SA Stamboek het 4 Dorper telers Platinum Toekennings gekry (in die top 10 oor al die kleinvee-rasse), 1 Dorper teler het Dubbel Goud ontvang, 4 Goud, 10 Silwer en 14 Brons.

Data is inligting wat mag sit in die hande van ‘n teler om sy kudde geneties effektief te kan verbeter en vir ‘n ras om doelgerigte genetiese verandering in die ras deur middel van teeldoelwit-toepassing te implementeer. In die genomiese era is metings noodsaaklik om die genetiese kode te kan interpreteer in die omgewing en populasie waarin die gene uitgedruk word.

Insameling van data is dus ‘n belegging in die toekoms van ‘n kudde en ras en moet met ope hande aangegryp word.

 



Article Index  Back to Top

© Copyright Noord-Kaap Veldram Projek 2025. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Noord-Kaap Veldram Projek.