Ek wil vir u ‘n bietjie agtergrond gee ivm ons Projek oor die afgelope jare 39 Jaar is ‘n groot deel van enige persoon se lewe en ek is bly dat ek die afgelope 39 jaar van die bestaan van die Projek kon deel met boere uit die Noordkaap wat so voluit kon bou aan die verbetering van die kleinvee bedryf. Hier dink ek veral aan die eerste bestuurslede van die projek nl. Fanie du Toit en Lieb Swiegers van die Hay Boere Unie, Theuns Botha van die Boerbokklub, Frik Vermeulen van die Swartkop Persie Vereniging, Robbie Meintjes van die NK Dorperklub en H G Human van die Afslaers .Louis van Rensburg het hom opgevolg aangesien hy na n ander gebied verplaas is. Ons weet dat hulle elkeen die fondament van hierdie Projek help lê het en ek weet dat die Noordkaap se boere altyd aan hulle dank verskuldig sal bly.
Die eerste voorsitter Mnr Fanie du Toit ook voorsitter van die Hay Boere Unie en sy bestuur het beplan om ‘n bron van inkomste te verkry dmv ‘n veiling. Die NK Dorperklub wou nie nog ‘n gevoerde veiling in die gebied help tot stand bring nie. en aangesien hulle self al op daardie stadium ‘n veldramveiling bespreek het, was dit die geleentheid waarna die bestuur van die Klub gesoek het nl., ‘n vennoot. Die Klub het toe vir Fanie gesê dat hulle sal hande vat alleenlik vir ‘n veldramveiling.
Ek gee n tree terug in die verlede en verskaf nog verdere agtergrond inligting waarby ek as beginner boer vanaf die begin betrokke was.
Soos enkele van u dalk weet is die NKDorperklub hier op Griekwastad begin deur boere wat alreeds in 1959 hierdie gedagte van veldaangepaste Dorpers wat deur rekordhouding selekteer moet word, begin as die Velddorperklub. Ek bring graag hulde aan hierdie baanbrekers wat die eerste was om die beginsel en die praktiese toepassing te vestig, nog voordat daar enige amptelike prestasie skema vir kleinvee bestaan het. Die department landbou het hulle skema geskoei op die formaat van die Klub se voorbeeld en Dr Campbell het daarvoor hier inligting bekom.
‘n Belangrike persoon in die grondlegging van die NK Veldramprojek was die eerste sekretaris Mnr. Lieb Swiegers wat die grondslag gelê het vir die goeie administrasie van die projek. Alle ander oud bestuurslede het elkeen ‘n groot aandeel gehad in die sukses van die projek. Die bestuur het nog al die jare as ‘n hegte span en in ‘n baie lekker gees alles saam beplan en saam gewerk.
Die naam van ons organisasie is vir baie persone vreemd aangesien ander soortgelykes as klubs bekend staan en ons ‘n projek is. Die rede is omdat ons uit verskillende klubs en rasse saamgestel is en dit verwarrend sou wees om as ‘n klub bekend te wees. Ek sien dat ander ook nou hulleself ‘n projek noem sonder dat hulle dalk weet hoekom.. Net so het daar nou ook groepe telers en enkel telers met veilings begin, maar ongelukkig kan hulle nie dieselfde vergelykende syfers as ons verskaf nie, aangesien hulle net uit ‘n beperkte getal stoeterye bestaan. Hier verwys ek nie na ander Dorperklubs se veldramveilings nie, want ek weet dat dit nodig is dat daar vir die verskillende streke met hulle variasie van klimaat en weiding sulke veilings gevestig moet word.
‘n Bydrae tot ons sukses kan verder toegeskryf word aan die reëls wat streng toegepas word, sowel as die feit dat ons vanaf die begin vereis het, dat deelnemers hulle onderskeie telersgenootskappe se vereistes nakom. Ons maak nog altyd gebruik van die onderskeie rasinspekteurs vir die fenotipiese keuring van die ramme. Deur die jare het daar al verskeie rasse deel gevorm van ons projek. Die twee rasse wat vanaf die begin tot op datum deelneem is die Boerbokke en die Dorpers.
Ons kan met sekerheid sê dat ons die toon aangee, met wat hier gedoen word, met die rasse wat hier deelneem. Sekerlik is een van die hoekstene van ons sukses die feit dat ons nog nooit die rasse met mekaar vergelyk het nie, alhoewel dit al baie versoek was. Ek wil nou nie voorgee dat daar nie op ‘n goedige manier met persone gespot is oor hulle voorkeur vir ‘n ras nie.. Iets wat my dwars in die krop steek is die uitsprake van sommige Dorper Inspekteurs dat alle rasse wat nie Dorpers is nie, prulle is. Ek dink dit sal enige persoon wat belang stel in ‘n ras twee keer laat dink oor die integriteit van so ‘n persoon. Hier is oor die jare baie duidelik bewys dat daar binne elke ras groter verskille is, as tussen die rasse, veral wat betref hulle groeivermoë op die veld. Dit dui vir elke teler ‘n baie uitdagende toekoms aan om die geweldige seleksie moontlikheid aan te gryp.
Met wat ons hier met die Dorpers bewys het, het party stoettelers se oë wel laat oopgaan vir die probleme in die bedryf. Kommersiele boere praat al jare lank van die skoudiere wat nie aanpas op die veld nie en toe ‘n Dorper inspekteur uit ons gebied eendag vir die betrokke President van die Dorpergenootskap op ‘n inspekteursdag vra hoedat ons die skou en kommersiele diere bymekaar moet kry, was sy antwoord, sweis hulle aanmekaar.Wat vir u duidelik aandui dat die probleem nie op daardie stadium deur die Dorper Raad besef is nie.
Van die deelnemende telers van al die rasse het in die begin gedink dat hulle enige ram hier sal kan verkoop, maar het agtergekom dat ons te veel siftingsprosesse het en dat dit net die goeie ramme was wat uiteindelik die veiling gehaal het en in aanvraag was by die kopers. Telers het ramme hier ingeskryf as lammers van 4 tot 6 maande wat na 2 maande 2 tand gewissel het. Ander telers het weer ramme wat met die eerste inname te lig was se oorplate verander en as jonger diere met die tweede inname weer gebring , maar is tot hulle verleentheid uitgevang.
Toe ons begin het om verpligte prestasietoetsing en rekordhouding oor ‘n aantal jare in te faseer sodat ons akkurater en meer inligting ivm die ramme beskikbaar kon stel, het ons deelnemers minder geword. Min het hulle besef, dat hulself die meeste voordeel daaruit sou verkry deur akkurate syfers vir hul eie seleksie beskikbaar te hê. Nou is dit ‘n vereiste dat die stoettelers wat diere hier inskryf alreeds by Stamboek moet deelneem aan die skema. Die bestuur is baie ingenome met die Blup teelwaardes van die ramme wat ons nou bekend kan stel. Ek kan u verseker dat dit elke jaar meer en akkurater sal word. Dit bring mee dat kopers nou al ramme wat hulle wil hê voor die tyd op die gegewens uitsoek en hulle dan net kom koop sonder om baie te let hoedat die ramme op die hoef vertoon. Hulle is mos seker dat hier nie prul ramme aangebied word nie. Ek is baie seker dat daar min persone is wat al hierdie kopskuif ervaar het, maar verseker u, dat dit nog met u almal sal gebeur, indien u regtig ekonomies as ‘n kleinvee produsent wil slaag.
In die begin was Dr Campbell en sy amptenare verantwoordelik vir die verwerking van die data. Ek dink van u sal nog Mnr Gert Wagner onthou wat so gesweet het met die neem van die liggaamsmates. Dit is statistiek wat dalk met die nuwe tegnologie beter ontleed kan word. Na Dr. Campbell het Prof. Frikkie Neser van die UOVS wat eers by die dept landbou gewerk het, vir ons die gegewens vir ‘n tydlank verwerk, voordat ons later van die LNR met Dr Buks Olivier aan die hoof gebruik gemaak het. Ons wil vir hom baie dankie sê vir sy raad met wat ons doen. Ons het egter nie altyd sy raad slaafs nagevolg nie. ‘n Voorbeeld is die verpligte deelname aan die prestasie skema wat hy graag vrywillig wou laat gebeur.
Soos u weet doen Stamboek nou vir ons die verwerkings en alle deelnemers moet betyds volledige gegewens aan hulle verskaf om waardes vir hulle diere te verkry.
Daar is twee instansies wat die hele pad saam met ons geloop het en dit is die Staatsveeartse en hulle tegnici wat nog altyd gesorg het dat die kopers gesonde diere hier kan koop. Ek wil net vir u noem dat ons vanaf die begin die skaapramme se saad getoets het voor die veiling en die wat nie reg was nie is geprul. Later is hulle ook vry van Brucella sertifiseer, nog voordat die Dorpergenootskap die reël ingestel het. Ons moet egter nou van privaat veeartse gebruik maak vir die toetse
Die tweede een is die Borg, Virbac, wat ons nog altyd voorsien het van doseermiddels
Nog ‘n hoeksteen van ons sukses was die beginsel van annonieme verkopers wat tot die frustasie van bekende telers bestaan het. Hier moes ‘n ram op sy eie meriete en met die ondersteuning van hierdie stelsel ‘n goeie prys behaal. Almal weet met hoeveel teenstand vanaf telers ons te doen gekry het. Hierdie beginsel van annonieme verkope het verval omdat daar meer gegewens beskikbaar gestel is en diere van telers in die katalogus herken is.
Ons kan maar net ons koppe in ongeloof skud, as ons kyk na van die aansprake wat telers in hul promosies doen.Ek dink dat die tyd nog sal aanbreek dat van ons telers wat nou so teen hierdie beginsel te velde trek, die ram of ramme wat nodig is om sy stoet te verbeter en nie net mooier te maak nie, dalk hier sal kom soek.
Een van die beste pluimpies wat ons kan kry is die kopers wat jaar na jaar weer hier ramme kom koop. Geen persoon stamp sy kop jaar na jaar nie, dus spreek dit seker van tevredenheid met hul aankope.
Verskeie persone het in die verlede vir ons gesê dat ons idealisties is en hierdie projek net nie ‘n sukses sal wees nie. Gelukkig spreek 39 jaar sekerlik ‘n baie duidelike oordeel uit.
Na alles wat ek nou hier aan u vertel het, is dit seker, dat ons baie konserwatief optree maar sekerlik steeds met die oog op die toekoms gerig. Veral wat betref nuwe kennis en ontwikkelings in die veeteeltbedryf. Geen stelsel of persoon in die wêreld is sonder foute of tekortkomings nie en dit geld ook vir die NK Veldramprojek. Die bestuur het en ek glo sal altyd kennis neem van enige kritiek of wenke en evalueer dit dan baie noukeurig voordat iets daaromtrent gedoen word.
Telers en kopers moet in hierdie veld toestande net een syfer tussen al die gegewens nie uit die oog verloor nie nl die seleksie indeks wat aandui of die ram goed gegroei het op die veld.
Ek dink op die bestuur van die projek se skouers rus baie uitdagings.
Net kortliks ‘n paar interessante gegewens;
‘n Paar jaar gelede het daar op die veiling Tipe 5 ramme nie ‘n bod gekry nie omdat hulle onder gemiddelde groei indekse gehad het. Dit het ons laat besef dat daar nie net rasstandaarde nodig is nie maar ook seleksie indekse om te kwalifiseer as ‘n Tipe 5 ram. Daar is toe begin met meriete vereistes. Tans dui ons die beste syfers duidelik in die katalogus aan.
Daar is twee telers wat vanaf die eerste jaar ononderbroke deelneem; L.E.van Rensburg en R.S.Meintjes, Daar is egter ook ander telers wat vanaf ‘n later stadium gereeld deelneem
Die inskrywings koste was met die eerste inname R55/ram. Die reiskoste wat ons uitbetaal het, was 20c/km. Die inskrywings koste is nou R1145/ram
Ons eerste veiling in 1986
Dorpers en Witdorpers; 79 aangebied, 79 verkoop, gem. R516 en hoogste R2100
Ten slotte wil ons net weer ons Hemelse Vader al die eer en dank bring dat Hy ons krag gegee het om alles wat met Sy leiding beplan is, te kon uitvoer.