Noord-Kaap Veldram Projek

Belegging In Prestasietoetsing Verseker Volhoubare Kudde Verbetering
Author: HG Human    Date Published: 07 August 2024

Facebook Twitter Google +


‘n Dier se prestsie word deur sy genetiese samestelling sowel as deur die omgewing waarin hy groei en produseer, bepaal.  Beide faktore moet geskik wees om goeie prestasie te verseker.

Die omgewing en bestuur waaraan diere blootgestel is, verander dwarsdeur hul produktiewe lewens. Hul genetiese potesiaal, wat deur die ouers bepaal word, bly egter dieselfde. Die genetiese bydrae van ‘n dier tot sy prestasie is uiters belangrik en die enigste invloed wat ‘n dier op sy nageslag kan hê, is deur die oordrag van gene.

Deur ‘n dier te selekteer bloot op grond van hoe hy lyk, lewer onvoorspelbare resultate.  Die enigste manier om diere objektief te evaluleer, is om van prestasiemeting gebruik te maak. 

Wanneer ramme op veilings oorweeg word om vining-groeiende nageslag in ‘n kudde te teel, kan die grootste ram moontlik die beste gene vir groeivermoë dra.  Die ram kan egter ook bloot die bes-gevoerde of oudste ram op die veiling wees.

Waaneer ramme vir die verbetering van maternale eienskappe oorweeg word, bv hul vermoë om meerlinge te teel, of vir die teling van dogters met goeie maternale eienskappe, gaan visuele beoordeling van die ram nie die nodige inligting gee nie.  Daarom is prestasie-toets skemas en Veldram Projekte ontwikkel om die identifisering van meerderwaardige genetika te vergemaklik.

Genetiese waardes word uit inligting vanuit hierdie skemas beraam.  Dit is ‘n onsydige evaluering van die genetiese potensiaal van ‘n dier, met inagneming van nie-genetiese invloede op prestasie, soos ouderdom, grootmaakstatus en bestuur- of omgewingsfaktore.

Genetiese waardes dui aan waar op die ras se ranglys ‘n dier geneties vir spesifieke ekonomies belangrike eienskappe geplaas word. Hierdie inligting help kopers om ramme te selekteer op grond van hul teelpotensiaal; met ander woorde, die potensiële effek wat hulle op die volgende generasie gaan hê.  “Mooi” ramme is gewoonlik goeie groeiers, maar sal nie noodwendig vrugbare dogters teel nie. 

Die LMI (Logix Meriete Indeks) balanseer genetiese verbetering oor ‘n reeks produksie- en reproduksie- eienskappe, geweeg volgens hul relatiewe belangrikheid in die ras se teeldoelwit.  Verder help LMI- gebaseerde seleksie om antagonistiese verwantskappe tussen eienskappe te oorkom, deurdat diere wat goed in beide eienskappe presteer geïdentifiseer kan word, ongeag die ongewenste verwantskappe wat mag bestaan.

‘n Ram met goeie genetiese meriete is belangrik, maar ‘n ram moet darem ook hard kan werk tydens die teelseisoen en vir minstens ‘n paar seisoene gebruik kan word.  ‘n Ram wat funksionele probleme het, sal waarskynlik net ‘n kort rukkie hou en minder ooie per seiesoen dek.  Die hoeveelheid lammers wat ‘n ram in sy leeftyd produseer, bepaal die wins wat hy vir sy eienaar in die sak bring.

Oorvet ramme hou gewoonlik nie langer as twee seisoene nie, wat beteken hul koste per lam gebore is baie hoër as ‘n fikse ram wat meer ooie  per seiesoen dek en langer in die kudde bly.  Wees dus versigtig vir oorvet ramme en gebruik die LMI om te bepaal hoe die ram geneties teen die res van die ras opweeg en jou kudde kan verbeter.

Om te verseker dat diere voortdurend verbeter en aan sy spesifieke ras kenmerke en doelstellings te kan voldoen, is dit noodsaaklik om prestasiemeting te gebruik in enige seleksieproses en aankoop van ramme.  Die belangrikste eienskappe nl. Groei, vrugbaarheid en doeltreffendheid, kan jy alleenlik bepaal deur prestasietoetsing, daarom is meting van die onsigbare eienskappe en gebruik van Blub uiters belangrik.  Dit gee ‘n beraamde teelwaarde wat voorspel hoe die dier se nageslag gaan produseer en reproduseer.  Teelwaardes is die akuraatste inligting waarmee diere geselekteer kan word.

Die voorspelling van teelwaardes berus op drie bene nl. Metings, stamboom-inligting en genetiese parameters nl. Oorerfbaarheid en genetiese korrelasies tussen eiensakppe.

NOORDKAAP VELDRAM PROJEK en Prestasietoetsing is die pad na die toekoms.  Die produk is ‘n aangepaste, veldgetoetste en funksionele dier wat onder verskillende klimaats- en omgewings toestande kan produseer en reproduseer.

Wêreldwyd word prestasie data vandag gebruik om winsgewindheid te verhoog.OM TE MEET IS OM TE WEET.

39STE NOORDKAAP VELDRAM VEILING TE GRIEKWASTAD SKOUGRONDE IS 11 SEPTEMBER 2024 OM 11:00 UUR

 

HG HUMAN

078 639 2216

hoekplaas@gmail.com



Article Index  Back to Top

© Copyright Noord-Kaap Veldram Projek 2025. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Noord-Kaap Veldram Projek.